17 April 2024
Die vakbond, Solidariteit meen miljarde rand se onvoorsiene uitgawes om werknemers van ’n nie-bestaande Nasionale Gesondheidsversekering te betaal, is nou Suid-Afrikaners, se voorland.
Die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla het in ‘n geskrewe antwoord op ‘n vraag deur die DA bevestig dat sy departement reeds ongeveer R5-miljard aan die omstrede NGV toegewys het, terwyl daar egter net meer as R1-miljard aan die NGV toegewys is.
‘n Ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut, Theuns du Buisson sê ’n groot deel van dié byna R5-miljard word juis gebruik om 28 personeellede vir die NGV in diens te neem – dit teen salarisse van meer as R1-miljoen per jaar.
Solidariteit het vroeër vanjaar ’n hofaansoek teen die departement gebring weens die voortydige advertering van NGV-poste. Die aansoek is sonder koste van die hand gewys.
Volgens Du Buisson word daar nou roekeloos geld vir dié poste rondgegooi sonder dat die begroting daarvoor bestaan. “Daar is immers ’n goeie kans dat die NGV nooit die lig sal sien nie, en Phaahla weet dit. Bykans niemand is ten gunste daarvan nie én die tesourie het al telkemale laat blyk dat daar nie geld daarvoor is nie.”
Hy meen die departement van gesondheid mors geld, wat kon gebruik word om die sukkellende openbare gesondheidsektor reg te ruk.