11 Mei 2022
Die departement van sport, kuns en kultuur beoog glo om sowat R22-miljoen te bestee op ‘n vlagpaal, wat 100 meter hoog sal wees.
Die konsep van monumentale vlae het vir die eerste keer in Februarie vanjaar aan die lig gekom, wat die oprig van reuse vlagpale behels om ‘n land se trots ten toon te stel.
Die departement sê sodra die vlagpaal gebou is, sal dit ‘n nasionale landmerk en ‘n toeristeaantreklikheid word wat sal dien as die land se handelsmerkbeeld.
Die departement sê dat hy reeds met die konseptualisering en ontwerp van die vlagpaal begin het. Geld sal nou oor die volgende paar jaar opsy gesit word vir verskillende fases van die projek.
In die 2022/2023-boekjaar word R5-miljoen begroot vir die terreinspesifieke geotegniese studies, insluitend die omgewingsimpakstudie en ander toetse en toepassings wat nodig sal wees voordat die konstruksie kan begin.
In 2023/2024 word R17-miljoen bewillig vir die installering van die monumentale vlag.
“Die vlag is ‘n simbool van ‘nasieskep’ en ‘gemeenskaplike identiteit’ het die departement in ‘n verklaring aangevoer.
Intussen het mense op Twitter uitgevaar oor die beplande vlag. Die organisasie teen belastingmisbruik, OUTA sê ‘n reuse vlagpaal is nie nodig om mense trots op hulle land te maak nie.