26 April 2023
Build one South Africa (BOSA) sê die voormalige uitvoerende hoof van Eskom, André de Ruyter het kleinkoppie getrek voor die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor).
Bosa se nasionale woordvoerder, Sbu Zondi sê De Ruyter se verskyning voor Skoor was uiters teleurstellend en ‘n mors van tyd. Hy het vanoggend vrae beantwoord oor die bewerings van korrupsie by Eskom wat hy tydens ‘n TV-onderhoud gemaak het.
De Ruyter het tydens die onderhoud gesê dat korrupsie van R1-miljard gepleeg is en dat senior politici betrokke was.
LEES OOK: ANDRÉ DE RUYTER WEIER OM NAAM VAN “KORRUPTE” SENIOR POLITIKUS BEKEND TE MAAK
Volgens Zondi het Suid-Afrikaners die reg om te weet wie by korrupsie betrokke was, gegewe die feit dat mense tot tien ure per dag sonder krag sit.
Hy sê ondanks Skoor-lede se herhaaldelike vrae oor wie diegene is wat betrokke is by korrupsie, het De Ruyter kleinkoppie getrek. “De Ruyter wou ook nie uitbrei oor wat hy bedoel met senior politici nie.” Hy sê diegene wat hy betrek het by korrupsie is waarskynlik steeds in die regering, wat beteken dat hulle “aanhou om geld te steel.”
Eskom het intussen gesê dat De Ruyter géén nuwe inligting bekend gemaak het voor Skoor nie.