14 Desember 2022
Die vakbond Solidariteit is van mening dat die bedanking van André de Ruyter as die uitvoerende hoof van Eskom dié nutsdiensmaatskappy se krisis gaan verdiep, nié verlig nie.
De Ruyter het in Januarie 2020 die pos aanvaar.
Die hoof van Solidariteit se navorsingsinstituut, Connie Mulder, sê in ‘n verklaring dat die probleem by Eskom nie die bedryfswil van die uitvoerende hoof is nie, maar die politieke wil van die regering.
Volgens die vakbond kan die beste persoon in die land in dié pos aangestel word, maar die huidige politieke bedeling maak die persoon se taak onmoontlik.
De Ruyter sê hy is nie gereed om nou met die media te praat nie.