6 Mei 2021
Die Dierebeskermingsvereniging in Midrand sê hy is geskok nadat twee honde in ‘n rivier in dié gebied agtergelaat is.
Volgens die DBV het ‘n vrou die vereniging verlede week geskakel nadat sy ‘n hond in ‘n rivier onder ‘n brug opgemerk het, terwyl sy op pad werk toe was.
Die algemene bestuurder van die DBV in Midrand, Pam Pretorius en ‘n assistent, Melusi Mndadweni is na die rivier waar hulle ‘n hond in die rivier gevind het. Volgens die DBV het die hond egter reeds gevrek.
Nadat hulle met die bekommerde vrou opgevolg het, het hul verneem dat nóg ‘n hond in die rivier moet wees.
‘n Hond is verder af in die rivier gevind, waar hy aan ‘n boom vasgebind was. Volgens die DBV het ‘n omstander, Sibusiso Dube sy hulp aangebied deur in die rivier te gaan om die hond na bo te bring.
Volgens Dube was die hond uiters swak, maar steeds lewendig toe hy by hom uitkom. Die hond is terug geneem na die DBV se kantore, maar het later gevrek.
Die DBV sê hulle is uiters hartseer oor die twee honde, wat op een dag gevind is en dat daar géén verskoning is vir die verwaarlosing van diere nie. Die vereniging meen dit is onnodig en onmenslik om diere op hierdie manier te hanteer.


