20 November 2022
Adjunk-president David Mabuza se konvooi was vanoggend in Middelburg in Mpumalanga in ‘n motorongeluk betrokke wat gelei het tot die dood van een van sy lyfwagte.
Die polisie het die voorval bevestig en sê twee ander insittendes moes in die hospitaal opgeneem word.
Volgens ‘n polisieverklaring was die oorledene deel van die polisie se beskermingseenheid. Mabuza en sy konvooi was op pad na die OR Tambo Internasionale lughawe in Johannesburg toe die ongeluk plaasvind.
Die polisiewoordvoerder, kolonel Athlenda Mathe sê ‘n band op een van die voertuie het gebars, wat daartoe gelei het dat die motor gerol het. Daar was drie persone in die motor.
Die motor waarin Mabuza was, was nie in die ongeluk betrokke nie en dus is hy nie beseer nie.