Nuuskommentaar: 28 September 2022
Deur: James Kemp
COSATU se nasionale kongres was die laaste twee dae in die nuus nadat kongresgangers nie wou toelaat dat die nasionale voorsitter van die ANC, Gwede Mantashe, hulle toespreek nie.
In `n onderhoud met Pretoria FM het die provinsiale sekretaris van COSATU in die Wes-Kaap, Malvern de Bruyn, gesê dat die ongelukkigheid spruit uit die regering se weiering om salarisverhogings aan staatsdienswerkers toe testaan. Toe hy gevra word oor die bespiegeling dat COSATU dalk oorweeg om die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party (SAKP) in die volgende nasionale en provinsiale verkiesing in 2024 te steun het hy toegegee dat daar ook ideologiese verskille tussen die vakverbond en die regerende party aan die ontwikkel is.
In 2024 sal dit presies 10 jaar wees sedert die Workers and Socialist Party, of WASP, hul steun in `n verkiesing getoets het. WASP het oorspronklik as `n faksie binne die ANC ontstaan wat as die Marxist Workers Tendency (MWT) bekend gestaan het.
Die MWT het ook `n direkte bydrae tot die ontstaan van COSATU gelewer. Oor die jare het daar egter verwydering tussen WASP en die ANC gekom en in aanloop tot die nasionale en provinsiale verkiesing in 2014 het hulle besluit om as `n poltieke party te registreer en aan die verkiesing deel te neem.
WASP was meer as net `n wegbreekfaksie uit die ANC en het ook die steun geniet van die National Transport Movement union, wat van COSATU weggebreek het, en die South African Transport and Allied Workers Union. Verder is die eerste sekretaris-generaal van die Nasionale Metaalwerkersunie van Suid-Afrika (NUMSA), Moses Mayekiso, as WASP se presidentskandidaat aangekondig.
Mayekiso was nie net `n gesoute vakbondman nie. Hy was ook `n prominente figuur in die stryd teen die Nasionale Party in die 1980’s. Hy was `n lid van die sentrale komitee van die SAKP en het ook op die verwelkomingskomitee gedien met oud-president Nelson Mandela se vrylating van die Victor Verster-gevangenis. In 1994 is hy, as lid van die ANC, tot die parlement verkies waar hy twee jaar gedien het voor hy besluit het om te bedank. Met sy bedanking het hy aangevoer dat die regering uit voeling is met hulle wortels.
Mayekiso was dus `n gerekende vakbondman en in sosialistiese kringe gesien as `n beginstelvaste politikus toe hy WASP in die nasionale en provinsiale verkiesing in 2014 lei. WASP kon egter net daarin slaag om 8 331 van die stemme op hulle te verenig. Dit is `n halwe persent van die totale stemme wat uitgebring is. Die party het ook in drie provinsies deelgeneem waar hulle `n verdere 4 159 stemme gekry het. Miskien is dit tog tyd dat die SAKP se naam op die stembrief verskyn en die steun vir beleidsrigtings soos nasionalisering, sentralisering en staatsbeheerde kragvoorsiening getoets word.