30 Augustus 2024
Die burgerregteorganisasie, AfriForum waarsku dat daar verskeie redes is waarom regulasies ingevolge die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) nie nou al gepubliseer behoort te word nie.
‘n Veldtogbeampte by AfriForum, Louis Boshoff sê een van die redes waarom dit nog nie gepubliseer moet word nie, is omdat president Cyril Ramaphosa nog nie die wet gepromulgeer het nie.
Hy sê die minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi het ook onderneem om eers nog insette van die publiek in te win, terwyl daar verskeie hofsake oor die NGV hangende is.
LEES OOK: Solidariteit stamp pilaar van NGV in hof om
Boshoff sê sy waarskuwing volg op terugvoer van die Gesondheidsdepartement se hoof van NGV, dr. Nicholas Crisp, aan die Nasionale Raad van Provinsies dat voorlopige regulasies vir die NGV-wet na verwagting binne die volgende maand gepubliseer sal word.
Volgens Boshoff sal so ‘n publikasie voortydig wees, en is daar nou ander prioriteite waaraan die gesondheidsdepartement eers moet aandag skenk.
LEES OOK: Ramaphosa staan Solidariteit se NGV-hofaansoek teen
“Die departement hou hom doof vir alle aanduidings dat die NGV ongrondwetlik, onwerkbaar en ongevraagd is. Dit is niks anders as die volgende stap om ANC-beleid te stoomroller in die gesondheidsektor nie. Hierdie voortydige regulasies sal buitendien ongedaan gemaak word as NGV ongrondwetlik verklaar word.”