1 Julie 2024
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum sê daar is hoop vir die onderwys nadat die DA se Siviwe Gwarube as die minister van basiese onderwys aangewys is.
Die SOS se uitvoerende hoof, Leon Fourie sê met Gwarube se uitgebreide agtergrond in openbare diens en beleid, bring sy ‘n nuwe era van hoop en vooruitgang vir die onderwyssektor.
Fourie meen haar opleiding in regte, politiek en filosofie aan die Rhodes Universiteit versterk haar vermoë om strategiese besluite te neem. Hy sê die SOS meen dat sy nou op selfstandigheid moet fokus sodat gemeenskappe self kan en mag besluit oor die bestuur van skole.
Volgens Fourie is die ontwikkeling van onderwysers ook belangrik om te verseker dat skole uitnemendheid bereik. “Die bevordering van nuwe en kreatiewe onderrigmetodes wat leerders se betrokkenheid en motivering verhoog, asook die belegging in nuwe tegnologie is voordelig.”
Hy het om verder uitgespreek oor die omstrede Bela-wet, wat tans op die president se tafel lê. “Dit moet herroep en herbedink word tot voordeel van alle belangegroepe in die onderwysomgewing,” sê Fourie.
Fourie sê die nuutgevormde Regering van Nasionale Eenheid bring uitdagings, maar ook geleenthede vir samewerking.
#NationalExecutive | The Minister of Basic Education is Siviwe Gwarube.
— South African Government (@GovernmentZA) June 30, 2024
📸: Parliament of SA pic.twitter.com/Aq9DAIzXcb