4 Januarie 2022
Die DA het die minister van openbare werke, Patricia De Lille, daarvan beskuldig dat sy nie die Parlement beskerm nie.
De Lille is self ‘n voormalige lid van dié party.
Die partyleier, John Steenhuisen, het vanoggend lede van die media buite die parlementsgebou toegespreek.
Hy is deur die parlementslid, Natasha Mazzone, en die party se hoofsweep, Siviwe Gwarube, asook die skadu-minister van openbare werke, Samantha Graham, vergesel.
Gwarube het op haar beurt gesê De Lille se departement is bewus daarvan dat sekere veiligheidsmaatreëls nie voldoende is nie.
Die party meen ook dat daar duidelike waarskuwingstekens van so ’n ramp was voordat die brand Sondagoggend uitgebreek het.
Steenhuisen het tydens die geleentheid gevra dat die Zondo-kommissie se verslag dringend ter tafel gelê word en dat die Parlement se werksaamhede nie deur die gebeure vertraag word nie.