23 Junie 2021
Die DA sê hy het ‘n uitnodiging van die EFF, om op te ruk na die kantore van die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte – SAHPRA – van die hand gewys.
Die EFF beplan om Vrydagoggend na SAHPRA se kantore in Pretoria op te ruk weens die stadige vordering van die regering se Covid-19-inentingsprogram. Die party meen president Cyril Ramaphosa het reeds lank terug sy inenting ontvang en “gee daarom nie om vir die res van die land nie.”
Die DA se woordvoerder, Siviwe Gwarube sê alhoewel die party saam stem met die EFF oor die stadige pas van die inenting, sal dit onverantwoordelik wees om aan dié betoging deel te neem.
Volgens haar is dit nie die moeite werd om talle mense in gevaar te stel deur ‘n massa-betoging te hou nie omdat die virus maklik op hierdie manier kan versprei.
Sy meen Gauteng is reeds die middelpunt van die derde vlaag van die virus en dat hierdie betoging net verdere druk kan plaas op die gesondheidsektor.