‘n Nuwe raadslid van ActionSA in die Tshwane-metro, Jacobus Coetzee, het glo rassistiese uitlatings gemaak teenoor lede van die DA-koukus.
Coetzee het gister tydens ‘n aanlyn raadsvergadering na van die DA-raadslede as bobbejane verwys.
Die DA sê hy gaan die saak na die Suid-Afrikaanse-Menseregtekommissie verwys, en ook die hof nader oor Coetzee se uitlatings.
Die party het ook ‘n beroep op die leierskap van ActionSA gedoen om op te tree teen die “ongemanierde en onvanpaste gedrag van hul lid.”
Die hoofsweep van die DA-koukus in die Tshwane-metro, Ofentse Madzebatela meen hierdie gedrag is in stryd met die waardes soos vervat in die Grondwet en die Gedragskode vir Raadslede.
Hy sê die DA gaan verder ook ‘n dispuut aanhangig maak by die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake om die raadslid uit sy amp te verwyder.