24 Februarie 2022
Die DA wil met behulp van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, dertien Suid-Afrikaanse mediese skole nader om vas te stel wat hul toelatingsvereistes rakende ras is.
Dít volg nadat dr Angelique Coetzee as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging bedank het ná haar kommentaar in die media dat toelatings tot mediese skole hoogs verpolitiseer is.
Die Universiteit van Kaapstad se 2022-prospektus het ook onlangs onder die soeklig gekom oor die uitgebreide rasgebaseerde kriteria wat in sy toelatingsproses ingebou is.
Volgens die aansoek wil die party onder andere vasstel wat die toelatingsvereistes vir nuwe studente tot ’n MBChB-graad is en of aansoekers se rasse-identiteit as maatstaf vir toelating gebruik word.
In die aansoek wil die party ook weet hoeveel kandidate se aansoeke vir die 2021-inname afgekeur is omdat hulle nie aan die sogenaamde aangewese groepe behoort nie.
Die party se Chantel King sê die land kort bekwame dokters.