Nuuskommentaar: 7 Junie
Deur: Jaco Kleynhans
Van al die kontinente op aarde is Afrika die verste agter met inentings teen die koronavirus. Slegs 2,5 dosisse entstof per een honderd mense is tot dusver in Afrika toegedien. Terwyl Afrika ‘n bevolking van 1,3 miljard mense het, is nog net 31 miljoen dosisse entstof op dié kontinent toegedien. In Nood-Amerika is 62 dosisse entstof vir elke 100 mense toegedien en in Europa is dit ook ‘n indrukwekkende 49.
Terwyl die meeste Afrika-lande nie daarin slaag om hulle burgers in te ent nie het die Wêreldgesondheidsorganisasie verlede week gewaarsku dat Afrika nie gereed is vir ‘n redelike ernstige derde golf van Covid-19 wat reeds in talle Afrika-lande begin woed nie.
Volgens amptelike data het 4,8 miljoen mense in Afrika reeds positief vir Covid-19 getoets terwyl 130 000 mense dood is. Beide die infeksie- en sterftekoers in Afrika is laer as op die meeste ander kontinente.
‘n Ondersoek deur die BBC vroeër vanjaar het egter bewys dat sterftes weens Covid, maar ook sterftes in die algemeen nie akkuraat in die meeste Afrika-lande gerapporteer word nie. Slegs agt lande in Afrika het ‘n stelsel waarvolgens alle sterftes geregistreer moet word.
Volgens ‘n ondersoek van die Verenigde Nasies se Ekonomiese Kommissie vir Afrika word slegs 10% van alle sterftes in Nigerië, die Afrika-land met die grootste bevolking, amptelik geregistreer. Nigerië het volgens amptelike data slegs nege Covid-19 verwante sterftes per een miljoen mense aangeteken, terwyl die wêreldgemiddelde 316 per miljoen is. Die meeste mense wat daagliks in Nigerië sterf se dood word nooit geregistreer nie en die rede vir die persoon se sterfte bly onbekend. Dieselfde geld in die meeste Afrika-lande.
Selfs die twee lande in Afrika met die beste stelsels waarvolgens sterftes geregistreer word, Suid-Afrika en Tunisië, het die afgelope vyftien maande ‘n skerp toename in sterftes ervaar en navorsers verwag dat die meeste van hierdie sterftes ook weens Covid-19 was.
Die Minister van Gesondheid in die Demokratiese Republiek van die Kongo het verlede week gesê dat dié land reeds deur die derde golf van die pandemie getref word. In Uganda het die getal positiewe toetse verlede week met 131 persent toegeneem. Suid-Afrika, Angola en Namibië ervaar almal ook tans ‘n skerp toename in nuwe Covid-19-gevalle.
Die Amerikaanse President Joe Biden het verlede week aangekondig dat die VSA voor die einde van Junie 80 miljoen dosisse entstof aan ander lande gaan skenk. ‘n Deel hiervan sal aan Afrika-lande geskenk word. Daar word verwag dat meer entstowwe Afrika gedurende die tweede helfte van die jaar sal bereik maar dat dit nog maklik twee tot drie jaar kan neem om tweederdes van die Afrikabevolking in te ent.
Terwyl die pandemie grootliks in talle ontwikkelde lande soos die VSA, Kanada en die meeste Europese lande tot ‘n einde gekom het, kan ‘n mens verwag dat dit nog vir etlike maande en selfs tot volgende jaar in groot dele van Afrika kan voortduur.
Die afgelope weke is bewys dat lande wat vinnig ‘n groot deel van hulle bevolkings kan inent ook vinnig ekonomies kan herstel. Die uitgerekte aard van die pandemie in Afrika, is besig om ook die ekonomiese skade op die kontinent te vergroot en Afrika se agterstand met die res van die wêreld te vererger.