24 November 2022
Tuis Covid-19-toetse is uiteindelik in Suid-Afrika beskikbaar, twee jaar ná die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (SAHPRA) dié toetse slegs vir gebruik deur gesondheidswerkers goedgekeur het.
SAHPRA het egter nou ‘n lisensie aan ‘n Johannesburg maatskappy, TipTop Medical goedgekeur om die toetse vir huishoudelike gebruik te verkoop.
Volgens berigte is dié lisensie glo die eerste van nog lisensies wat aan ander maatskappye uitgereik kan word.
Die tuistoetse is egter ‘n antigeen toets, wat minder sensitief is as die volledige Covid-19-toetse. Hoewel die toets minder akkuraat is as die volledige toets, is dit dikwels deur regeringsdepartemente gebruik om te bepaal of iemand die virus onder lede het.
Daar is tans 8 178 aktiewe Covid-19-gevalle in Suid-Afrika, waarvan die meeste in die Wes-Kaap aangemeld is.