18 Junie 2023
Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga sê die Covid-19-pandemie het steeds ‘n reuse uitwerking op verskeie dele van die samelewing, en só ook op kinders se geletterdheidsvlakke.
Sy het vanmiddag terugvoer gegee nadat ‘n studie oor leesgeletterdheid gevind het dat Suid-Afrikaanse kinders uit 50 lande heel onder aan die lys is van hoe goed hulle met begrip kan lees.
Volgens haar het die pandemie talle ontwrigtings in skole veroorsaak, wat dus ‘n uitwerking op leerlinge se leesvermoëns het. Motshekga meen die daling in kinders se leesvaardighede kom nie vir haar as ‘n verrassing nie.
Sy het ‘n ernstige beroep op ouers en voogde gedoen om seker te maak dat kinders by hulle huise lees en dat daar vir hulle gelees word. “Ouers moet onthou dat leesvaardighede nie eers begin wanneer die kind in Graad R is nie, maar al vandat die kind gebore is.”
Volgens Motshekga moet ouers nie net vir hulle kinders speelgoed en lekkergoed koop nie, maar leesboeke.
