1 Junie 2022
Die uitvoerende hoof van Comair, Glenn Orsmond sê passasiers wat deur die opskorting van sy dienste geraak word, kan aansoek doen om hulle geld terug te kry.
Dit volg nadat dié lugdiens – wat Kulula.com en British Airways in die land bedryf – van vandag af al sy vlugte moes opskort weens likiditeitsprobleme.
Orsmond sê die gekombineerde invloed van die inperkings tydens die Covid-19 pandemie – tesame met die besluit van die Burgerlugvaartowerheid om sy vlugte vroeër vanjaar op te skort en die stygende brandstofpryse – het ‘n vernietigende uitwerking op sy bedrywighede gehad.
Die onderneming het in Mei 2020 hom aan vrywillige sakeredding onderwerp weens sy voortdurende finansiële probleme.
Volgens Orsmond werk hulle saam met die sakereddingspraktisyns om geld te probeer bekom om hulle dienste weer te hervat.