29 Oktober 2024
’n Splinternuwe program onder leiding van Chris Maas, Klankbaan, is eersdaags op Pretoria FM te hoor. Klankbaan sal luisteraars op ’n musiekreis neem wat die grense van tradisionele filmmusiek oorskry en kyk na alle musiek wat die beeld wat die kyker sien en beleef beklemtoon — van televisie-advertensies tot Playstation-speletjies.
Chris Maas is die seun van die veteraan radioaanbieder, Hennie Maas, wat op 4 April vanjaar oorlede is.
Volgens Pretoria FM se programkoördineerder, Sarina Bosman, bring Chris Maas nie net sy diepgaande kennis van digitale media en kultuur na die program nie, maar ook ’n leeftyd van passie vir musiek wat in sy kinderjare deur sy pa, Hennie Maas, gevestig is.
Wyle Hennie Maas, het daagliks musiek in die Maas-huishouding laat weerklink en Chris se liefde vir musiek op ’n vroeë ouderdom aangewakker.
Bosman sê verder dat Klankbaan ’n unieke luisterervaring na die stasie bring. “Chris se insigte en passie maak hierdie program ’n besonderse toevoeging tot ons musiekaanbiedinge. Klankbaan sal luisteraars inspireer en blootstel aan die onlosmaaklike verband tussen beeld en klank.”
Maas vertel dat hy jare lank reeds na Pretoria FM luister en dit as ’n voorreg sien om dié program met luisteraars te deel. “Om weer op die lug te wees is geweldig opwindend!” sê Maas.
Maas is het ’n meestersgraad in Digitale Media en Kultuur wat sy aanbieding met ’n unieke perspektief verryk.
Klankbaan skop Sondag 3 November om 20:30 af.