Nuuskommentaar: 30 November 2022
Deur: Jaco Kleynhans
Geweld het Sondagaand tussen die polisie en betogers in Sjanghai, China se grootste stad en die finansiële sentrum van die tweede grootste ekonomie ter wêreld, uitgebreek. Protesoptrede neem sedert verlede Vrydag in stede reg oor China toe oor dié land se “geen-Covid-strategie” waarvolgens die Chinese regering alles in sy vermoë bly doen om enige voorkoms van Covid-19 uit te wis.
Tien mense is verlede Donderdag in ʼn brand in ʼn woonstelblok in die westelike stad Ürümqi dood toe hulle weens die streng Covid-19-inperkings nie hul woonstelle betyds kon verlaat nie. Dié stad se 4 miljoen inwoners is reeds vir langer as 100 dae in ʼn streng staat van inperking.
Die getal Chinese wat met Covid-19 gediagnoseer word, het verlede week skerp toegeneem. Dit is veral in groot stede soos Sjanghai, Beijing, Guangzhou en Chengdu waar die getal positiewe toets-uitslae daagliks styg. Byna 40 000 Chinese toets tans positief vir Covid-19 per dag.
Die Chinese regering se antwoord hierop is massatoetsing, streng kwarantyn, wye inperkingsmaatreëls en die gebruik van tegnologie om mense se bewegings te volg. Dit bring mee dat byna een uit elke vyf Chinese tans in ʼn staat van inperking is.
Byna drie jaar ná die uitbreek van Covid-19 raak dit duidelik dat die Chinese strategie onvolhoubaar is. Openbare protes in China is reeds vir meer as drie dekades iets ongehoords. Ná die Tiananmen-betogings in 1989 in Beijing, en die regering se onderdrukking daarvan was daar nog nooit weer ʼn geval waar groot getalle Chinese aan betogings oor die land heen deelgeneem het nie.
Terwyl die Chinese bevolking polisie-optrede vrees, het die Chinese regering ook die afgelope drie dekades ʼn omvattende indoktrinasieveldtog gevoer om ʼn negatiewe ingesteldheid jeens enige vorm van protes onder die jonger geslagte Chinese te skep. In weerwil daarvan het duisende Chinese teen Sondag aan protesoptogte in stede oor die land heen deelgeneem.
Sedert Xi Jinping tien jaar gelede die president van China geword het, het hy die land se binnelandse veiligheidsnetwerk wesenlik uitgebrei met ʼn groot netwerk van sowat 2 miljoen mense wat daarvoor verantwoordelik is om daagliks sensuur toe te pas en Chinese burgers se kommunikasie op sosiale media en ander kanale te monitor. Enige kritiek op die regering of aanhitsing tot protes word vinnig en doeltreffend onderdruk.
Die protes van die afgelope paar dae bewys dus tot watter mate Chinese burgers bereid is om hul misnoeë met die regering se Covid-19-maatreëls te toon. Die belangrikste rede vir die protes is waarskynlik die ekonomiese gevolge van die streng Covid-19-maatreëls.
Aandelemarkte in China het reeds skerp gedaal ten spyte van die Chinese sentrale bank se poging verlede Vrydag om likiditeit in die ekonomie te bevorder. Sowat 20% van die Chinese bruto binnelandse produk (BBP) word deur die huidige inperkings geraak met groot fabrieke wat orals gesluit is en honderde miljoene werkers wat nie kan werk nie. Die koste om miljoene mense per dag vir Covid-19 te toets het van 2% van die BBP in Mei tot 5% in November gestyg. Ekonome verwag langtermynskade aan die Chinese ekonomie.
Die Chinese gaan waarskynlik ʼn duur prys vir hul onvolhoubare Covid-19-strategie betaal. Terwyl protesaksie onderdruk sal word, kan die ekonomiese gevolge tot groter onstabiliteit in China lei en kan die res van die wêreldekonomie ook ernstig hierdeur geraak word.
Foto: KCWR