5 September 2022
‘n Forensiese verslag dui daarop dat die brand – wat bykans sewentien maande gelede groot dele van die Charlotte Maxeke-akademise hospitaal in Johannesburg onbruikbaar gelaat het – nie per ongeluk ontstaan het nie.
Volgens die verslag is die brand waarskynlik met opset gestig en word verdere ondersoeke geregverdig.
Voorraad en persoonlike beskermende toerusting van nagenoeg veertig-miljoen rand is vernietig nadat die brand in ‘n pakkamer ontstaan het.
Verskeie teenstrydighede word in die verslag uitgelig, onder andere in die getuienis van personeellede.
Ooggetuieverklarings is in sommige gevalle eers ses maande na die brand ingedien.
Groot gedeeltes van die hospitaal is steeds in onbruik en herstelwerk sal waarskynlik eers volgende jaar voltooi word.