12 Julie 2023
Die minister van polisie, Bheki Cele, sê daar is sedert Saterdagaand nege vragmotors in KwaZulu-Natal, nege in Mpumalanga en drie in Limpopo aan die brand gesteek.
Cele sê die vragmotors wat in die Vrystaat en Gauteng gebrand het, word nie met die onlangse aanval op vragmotors verbind nie. Hy meen dat dié vragmotors se brande weens meganiese foute ontstaan het.
Die polisie het intussen 12 persone van belang geïdentifiseer wat ondersoek gaan word in verband met die voorvalle.
Cele sê hoewel die polisie se ondersoek na die voorvalle voortduur, het hulle bevind dat dit nié met die Julie-onluste van 2021 verband hou nie. Volgens hom is verskeie goedere op die vragmotors vervoer insluitend steenkool, chroom en vrugte. Hy sê bykomende polisielede is op hoofroetes gestasioneer.
