10 Maart 2022
Die minister van polisie, Bheki Cele, sê hy het geen planne om te bedank nie, behalwe as president Cyril Ramaphosa hom vra om dit te doen nie.
Cele het tydens ‘n onderhoud gesê hy is van mening dat hy hom baie goed van sy taak kwyt in dié portefeulje.
Die minister loop onder hewige kritiek deur oor die onrus wat in Julie verlede jaar in KwaZulu-Natal en Gauteng gewoed het waartydens meer as 300 mense dood en miljarde-rand se skade aangerig is.
Cele het tydens die onderhoud gesê dat hy begrip het dat daar soms kommunikasieprobleme is en dat hy ondervinding daarvan opgedoen het tydens sy ampstermyn as kommissaris.
Hy sê ook as iemand dink hulle kan die taak van polisieminister beter verrig, dan moet hulle na vore tree.