18 Augustus 2021
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum, oftewel Sabric het vroeër vandag bevestig dat altesaam R119-miljoen tydens die onlangse onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng uit kitsbanke en banke se kluise gesteel is.
Sabric se uitvoerende hoof, Nischal Mewalall het bevestig dat 1 227 kitsbanke beskadig is. By minstens 256 van dié kitsbanke is daar ingebreek, terwyl sowat 36 kitsbanke heeltemal verwyder is. Sy sê van dié kitsbanke is nog nie teruggevind nie.
Ongeveer 310 banktakke is gevandaliseer of vernietig. Altesame 82 kluise binne-in die banke is binnegedring.
LEES OOK: RESERWEBANK WAARSKU: MOENIE GELDNOTE MET INKVLEKKE AANVAAR NIE
Mewalall sê die R119-miljoen wat gesteel is, is slegs in kontant en sluit nié die skade in wat aan die banke en kitsbanke se infrastruktuur aangerig is nie.
Sy meen diefstal van die kontant is baie kommerwekkend omdat nie al die note met ink bevlek is nie en miljoene onbevlekte note sal terug in die ekonomie gepomp word. Sabric het vroeër gewaarsku om nié die kontant te gebruik nie en dit by die polisie in te dien.
Hou Afrikaans op die lug