8 Junie 2023
Byna 800 pasgebore babas het sedert 2020 by die Tembisa-hospitaal, in Kempton Park gesterf.
Volgens die departement van gesondheid in Gauteng is die sterftes veroorsaak deur ondermeer infeksies, aangebore afwykings en ontwikkelingsprobleme.
Die LUR vir gesondheid in Gauteng, Nomantu Nkomo-Ralehoko, het in ‘n antwoord aan die DA gesê dat daar 50 000 babas die afgelope drie jaar by die hospitaal gebore is.
237 babas het in die 2020-boekjaar gesterf, 271 in die 2021-boekjaar en 280 in die 2022-boekjaar.
Volgens Nkomo-Ralehoko het die departement in sy 2023/ 2024-begroting voorsiening gemaak vir sekere toerusting om in die Tembisa-hospitaal na babas met spesiale behoeftes om te sien. Hy sê ander kwessies soos ‘n tekort aan personeel word geprioritiseer.
Die DA se woordvoerder oor gesondheid, Jack Bloom sê hy is uiters bekommerd oor die aantal babas in dié hospitaal wat weens ‘n hoë infeksietelling dood is. In 2022 is 37% van die babas dood weens ‘n infeksie teenoor 2020 se 25,1%.
