Die dodetal, nadat die van dak van ‘n nagklub in die Dominikaanse Republiek ineengestort het, het nou tot 98 gestyg.
Die BBC berig dat meer as 150 mense beseer is toe die dak van die Jet Set-nagklub in Santo Domingo net na middernag (plaaslike tyd) ineengestort het. Meer as 300 mense was in die nagklub, waar die plaaslike sanger, Rubby Pérez opgetree het.
Een van die slagoffers is die 51-jarige atleet, Octavio Dotel, wat in 2011 die Wêreld Reeks Bofbal by die St Louis Cardinals gewen het. Hy is op pad na die hospitaal dood nadat hy onder die puin uitgehaal is.
Volgens die BBC is 400 reddingswerkers steeds op die toneel om na oorlewendes te soek.
Dit is nog onbekend wat tot die ineenstorting gelei het.
Intussen het president Luis Abinader ‘n routydperk van drie dae afgekondig.