Nuuskommentaar: 25 Augustus 2022
Deur: Jacques Broodryk
Die Wes-Kaapse Departement van Gemeenskapsveiligheid het onlangs bevestig dat buurtwaglede in die provinsie oor die afgelope vyf jaar met 277% toegeneem het.
Volgens wetgewing in die Wes-Kaap het buurtwagte die opsie om hulself by die plaaslike regering te registreer, maar dit word nie verplig nie. Die syfer toon dus dat buurtwagte wat hulself wel laat registreer het, se ledetalle van 4 093 na 15 432 gestyg het. Die werklike toename van lede van die publiek, wat ’n aktiewe rol in die beveiliging van hul eie gemeenskappe begin speel het, is vermoedelik baie hoër, nie net in die Wes-Kaap nie, maar so ook landswyd.
Die burgerregteorganisasie AfriForum het ongeveer 160 buurtwagstrukture landswyd en sowat 10 000 opgeleide vrywilligers wat ’n rol speel om hul buurte te help beveilig.
AfriForum se veiligheidstrukture fokus nie net op patrollering nie. Van die vrywilligers het mediese opleiding onderneem, of is kommunikasiespesialiste, of snuffelhond hanteerders dan is daar ook brandspanne, brandvoertuie en natuurlik reaksiespanne. Almal vrywilligers wat gekies het om ’n verskil in hul onderskeie gemeenskappe te maak.
AfriForum-buurtwagte behaal ook gereeld enorme suksesse. Onlangs is ’n voertuig wat in Pretoria gesteel is, binne ure, in KwaZulu-Natal opgespoor dít nadat die polisie maande lank met die saak gesloer het. Een van AfriForum se reaksiespanne, bekend as protospanne, in Bloemfontein, is onlangs deur die Valke genader om hul by te staan tydens die inhegtenisneming van ’n verdagte wat blykbaar by mensehandel betrokke is.
Protospanlede deurstaan intensiewe taktiese opleiding in vuurwapenhantering, bloedingsbeheer, regsaspekte en die invordering van inligting. Om op so ’n groot groep vrywilligers se knoppie te kan druk verlig uiteraard die las op die reeds erg oorlaaide polisiemag.
Die goeie samewerkingsverhouding tussen wetstoepassers op grondvlak en AfriForum-buurtwagte is ’n wenresep om misdaad saam te help bekamp en te voorkom. Nog ’n voorbeeld waar die samewerking groot vrugte afgewerp het, is op ons grensgebiede, waar AfriForum se patrolleerders nou saam met die weermag en polisie gewerk het om smokkelaars vas te trek. Buurtwaglede het daarin geslaag om op miljoene rande se smokkelware beslag te lê en minstens twee oorgrenssindikate het tou opgegooi juis omdat dit nie meer vir hul finansieel die moeite werd was om AfriForum se patrolleerders die stryd aan te sê nie.
Die ander uitdaging is natuurlik dat sommige politici na bewering self uit oorgrens-misdaad soos sigaretsmokkelary munt slaan en daarom word daar ingemeng in pogings om die misdaad te bekamp.
Alhoewel die stryd teen misdaad in Suid-Afrika sonder twyfel nog vir baie jare moeilik gaan wees, is dit ’n geveg wat wel met groot sukses aangedurf kan word. Ongelukkig bly dit frustrerend om steeds belasting (geoormerk vir veiligheid en ander basiese dienste) te betaal vir dienste wat nie gelewer word nie.
Al hoe meer mense besef dat hulle self skouer aan die wiel sal moet sit, en dat hoe meer mense direk by hul gemeenskappe betrokke raak, hoe vinniger die samelewing in geheel teen die huidige verval sal kan begin terugbaklei.
Om jou eie veiligheid te prioritiseer, is die eerste tree na ’n beter toekoms!