15 September 2023
‘n Gedenkdiens vir wyle prins Mangosuthu Buthelezi is vanoggend (15 September) by die Voortrekkermonument (VTM) gehou.

Buthelezi is op 9 September in die ouderdom van 95 oorlede nadat hy ‘n geruime tydperk siek was.
Die besturende direkteur van die Voortrekkermonument, dr. Danie Langner vertel dat dit vir die monument belangrik was om Buthelezi se nalatenskap hiér te vier omdat die verhale van die Afrikaner en Zoeloe sterk deurweef is in ons land se geskiedenis.
“Die besluit om van die Kultuurtuiste se kant af hulde te bring aan Buthelezi was ’n eenparige direksiebesluit en is teen ’n bepaalde geskiedkundige agtergrond (van Afrikaner- en Zoeloe-verweefdheid) geneem. Prins Buthelezi het verlede jaar ook met die onthulling van Shawu, die olifantbeeld in die Trekroetetuin, ’n boodskap gestuur waarin hy klem lê op geloof, identiteit en die verhouding met Afrikaners,” sê Langner.

In hierdie video vertel die Zoeloe-prins dat hy baie trots is op die verhouding wat die VTM deur die jare met ander kulture gebou het.
“Vandag voel ek, meer as ooit in die verlede, die belang van die Voortrekkermonument as deel van ons gedeelde kulturele erfenis en ek glo ek is nie alleen nie,” vertel Buthelezi in sy laaste boodskap aan die Afrikaner.
Koos van der Merwe, oud-politikus en goeie vriend van Buthelezi het ook tydens die diens ’n huldeblyk gelewer.
“Buthelezi was ’n ware vriend van die Afrikaner en ’n waardige man. Wat ek altyd van hom sal onthou is dat hy niks onder die mat ingevee het nie. Hy het probleme dadelik opgelos.”
Die hoogtepunt van Buthelezi se gedenkdiens was egter ds. Cassie Aucamp se prediking uit Romeine 12:21: “Moenie dat die kwaad jou oorwin nie, maar oorwin die kwaad met die goeie… Dit het Buthelezi in sy lewe reggekry. Om vrede te handhaaf waar hy gaan”.
