16 Oktober 2024
Die voormalige Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane het uit die EFF bedank.
In haar bedankingsbrief aan die leier van dié party, Julius Malema – waarvan sy ‘n afskrif op “X” geplaas het – skryf sy dat sy op dié stap besluit het nadat sy met haar familie beraadslaag het.
Sy sê hulle het haar aangeraai om terug te tree, meer tyd met hulle te spandeer en uit te rus.
Mkhwebane het ook aangedui dat sy op ‘n latere stadium moontlik weer die sogenaamde stryd om geregtigheid vir die onderdruktes sal opneem.
Sy is bykans ‘n jaar gelede as parlementslid van die EFF ingehuldig nadat sy uit die amp van Openbare Beskermer geskop is.
Sy het verder in haar bedankingsbrief aangedui dat sy die laaste paar jare voel asof haar menseregte geskend word. Sy het verwys na president Cyril Ramaphosa wat haar “ongrondwetlik uit haar pos as OB verwyder het.”
Volgens Mkhwebane voel sy in die steek gelaat deur die Suid-Afrikaanse Regbank, die parlement en die hoofstroom media wat, volgens haar, haar geteiken het om haar karakter af te breek. Sy meen verder sy dink nie sy het nog krag oor om te veg teen mense wat haar wil verneder nie.
In die brief het Mkhwebane die EFF en Malema bedank vir hulle volgehoue ondersteuning.