13 Februarie 2025
Die DA meen hy het bevestiging “dat daar groot fout is” by die Hammanskraal-waterprojek en dat die burgemeester in die Tshwane-metro “nie ‘n idee het van wat by die projek aan die gang is nie.”
Die voormalige burgemeester en die DA se koukusleier in die metro, Cilliers Brink, sê die eerste fase van die projek is vroeër vanjaar van stapel gestuur, en dat die huidige burgemeester, dr Nasiphi Moya, toe inwoners van die stad verseker het dat die water veilig is om te drink.
Moya het egter in ‘n mediaverklaring, wat vandag uitgereik is, gesê dat mense in Hammanskraal nié die water moet drink nie. Brink sê sy kollega, Themba Fosi, het onlangs die woonbuurt besoek waartydens hy ingelig is dat die inwoners binne fase 1 reeds vir die afgelope twee weke sonder water is.
Brink sê openbare vertroue in die metro lei skade weens Moya se wisselvalligheid oor die gehalte van die water, en meen dit plaas ook openbare gesondheid in gevaar. Hy sê hy sal nou ‘n skrywe rig aan die minister van water en sanitasie, Pemmy Majodina, oor die DA se kommer wat die Hammanskraal-waterprojek betref.
