Nuuskommentaar: 12 Junie 2023
Deur: Jaco Kleynhans
Die politieke en ekonomiese probleme in die Verenigde Koninkryk het die afgelope paar dae verder verdiep nadat die voormalige Britse premier Boris Johnson Vrydag as parlementslid bedank het en die voormalige Skotse premier Nicola Sturgeon oor die naweek op aanklagte van bedrog in hegtenis geneem is. Kiesers in die Verenigde Koninkryk moet binne die volgende 18 maande na die stembus gaan, en die Konserwatiewe Party wat die afgelope 13 jaar die Verenigde Koninkryk regeer, stuur af op ’n reusagtige nederlaag.
Die laaste verkiesing in die Verenigde Koninkryk was op 12 Desember 2019 toe Boris Johnson en sy Konserwatiewe Party ’n meerderheid van 80 setels in die Britse laerhuis behaal het en daarmee ’n nuwe era vir Brittanje sou inlui. Johnson het tydens die 2019-verkiesingsveldtog onderneem om Brittanje se uittrede uit die Europese Unie in ekonomiese voordele vir Britte te omskep. Van Johnson se beloftes het egter niks gekom nie.
Peilings dui daarop dat byna tweederdes van Britte deesdae ten gunste daarvan is dat hulle land weer by die Europese Unie moet aansluit. Die omvang van die Konserwatiewe Party se mislukking om Brexit suksesvol deur te voer en werklik in ekonomiese geleenthede vir Britse ondernemings te omskep, is reusagtig.
Onder die wêreld se grootste ekonomieë sukkel die Verenigde Koninkryk die meeste om ná die Covid-19-pandemie ekonomies te herstel. Van die G7-lande het die Britse ekonomie die stadigste herstel en is dit die enigste van dié sewe ryk lande wat vandag steeds ’n kleiner arbeidsmag as voor die pandemie het. Die Verenigde Koninkryk se inflasiekoers, tans op 8,7%, is ook die hoogste van alle ontwikkelde lande. Britse staatseffekte presteer van die swakste van alle groot, ontwikkelde ekonomieë.
Terwyl sakelui kla oor die trae ekonomiese herstel, uitdagings met regulasies wat beleggers weghou en stygende belasting is dit gewone Britse burgers wat die ongelukkigste is oor wat in hulle land aangaan. Die wagtyd vir talle mediese dienste in die openbare gesondheidsektor in Brittanje is die langste ooit. Lewenskoste styg vinniger as inkomste en Britte is oor die algemeen ongelukkig oor hoe die regering alles, van onwettige immigrasie tot pensioene, mediese sorg, onderwys- en energiekwessies, hanteer.
Die bekende Britse politikus Nigel Farage skryf onlangs in die Telegraph-koerant dat hy teleurgesteld en woedend is oor hoe die Konserwatiewe Party die geleenthede wat Brexit ingehou het, verspeel het. Volgens Farage trek kleinsakeondernemings geen voordeel uit Brexit nie omdat die Britse regering nie daarin slaag om vryhandelsooreenkomste te onderhandel en ekonomiese regulasies te verminder nie. Die styging in onwettige immigrasie na die Verenigde Koninkryk moes volgens Farage juis deur Brexit opgelos word, maar die probleem vererger daagliks.
Boris Johnson was sedert 2016 die gesig van Brittanje se uittrede uit die Europese Unie en ook die geleenthede wat dit sou inhou. Sy bedanking uit aktiewe politiek verlede week bevestig die mislukking van die politieke en ekonomiese ideale waarvoor hy gestaan het.
Die Konserwatiewe Party in Brittanje het sy ideale en beginsels agtergelaat, en volgende jaar sal Britse kiesers waarskynlik hulle rug op dié party draai. Brittanje se huidige politieke en ekonomiese uitdagings is deel van ’n patroon van politieke onstabiliteit en ekonomiese onsekerheid in die Westerse wêreld wat oor die volgende paar jaar tot heelwat uitdagings kan lei.
