4 Oktober 2022
Die onlangse brand en gepaardgaande verwoesting van die Garies Hoërskool, het weereens die lig gewerp op die Kamiesberg-plaaslike owerheid se onvermoë om sy verpligtinge teenoor die gemeenskap na te kom.

Dit is die mening van die VF Plus se streekskoördineerder in die Weskus en Namakwaland, Coenie Coetzee.
Volgens hom het dit onlangs aan die lig gekom dat die vuur noodgedwonge gelaat is om uit te brand, omdat brandbestrydingsvoertuie buite werking is.
Coetzee sê ‘n voorlopige ondersoek dui daarop dat die oorsaak van die brand brandstigting is, aangesien die skool op drie plekke gelyktydig begin brand het. Hy sê die burgemeester, Susarah Nero sê weens finansiële uitdagings kon hulle nie na wense optree nie.
Coetzee meen as brandbestryding nie geprioritiseer word nie, laat dit baie vrae ontstaan oor finansiële bestuur.
Hy sê die munisipaliteit besit twee brandbestrydingsvoertuie – ‘n sleepwa met drukpomp en watertenk wat onder ‘n peperboom staan waarvan die diensbaarheid jare gelede laas getoets is en die wiele na ander voertuie “herontplooi” is, en ‘n regte rooi brandweerwa wat in ‘n munisipale werf op stene staan.
“Brande soos dié wat die Hoërskool Garies in puin gelê het, kan weer verwag word.”