20 Desember 2023
Vyf brandbestryders is beseer in die brand wat steeds by Simonstad in die berg woed.
Volgens die woordvoerder van die Kaapstadse rampbestuursentrum, Germaine Carelse, is drie beamptes op die toneel behandel en moes twee na die hospitaal afgevoer word waar hulle vir meer ernstige beserings behandel is.
Die brand – wat gister in die Murdock-vallei uitgebreek het – word aangevuur deur sterk wind.
Carelse sê wanneer die weer dit toelaat word drie helikopters ingespan om die vlamme te bestry terwyl nagenoeg ‘n honderd lede van grondspanne en vyftien brandweerwaens ook ontplooi is.
Een ongebruikte gebou op die vlootbasis is in puin gelê terwyl huise in Harbour Heights – waar inwoners vroeg vanoggend ontruim is – nou buite gevaar is. Talle inwoners moes ook uit hulle huise ontruim word.
Veral inwoners van Victory-, Horatio- en Barnard-straat is gevra om hul huise kort ná 01:00 Woensdagoggend te ontruim.
Foto: Carina Nel