3 Januarie 2022
Die brand by die parlementsgebou – wat beduidende skade aan groot gedeeltes van die struktuur en sy inhoud aangerig het – is uit sommige oorde verwelkom.
Die EFF se parlementslid, Mbuyiseni Ndlozi, het op die sosiale media aangedui dat dit ‘n “pragtige” vuur is – ongeg wat die oorsaak of die bedoeling daarvan was.
Hy het ook daarop gedui dat die brand as ‘n geskenk gesien moet word. Ndlozi het verder ook gesê dat “die brand nie as ‘n tragedie beskou kan word nie, omdat dit nie ‘n tragedie is as ‘n koloniale gebou brand sonder die verlies van ‘n lewe nie.”
Op haar beurt het die dogter van oud-president Jacob Zuma, Dudu Zuma-Sambudla op die sosiale media ‘n plasing gemaak waarin sy die klaarblyklike brandstiger geluk wens.
Sy het by ‘n foto van die brand kommentaar gelewer en verwys na die bekende advertensie wat lui: “Give that man a Bell’s.“
Zuma-Sambudla het haar die gramskap van gebruikers van die sosiale media op die hals gehaal nadat sy in Julie verlede jaar ook die grootskaalse geweldpleging in Gauteng en KwaZulu-Natal goedgepraat het.
Haar inskrywings in dié verband het ook die aandag getrek van senior polisiebeamptes wat die aanhitsing van geweld ondersoek het.