5 September 2022
Die adjunk-hoof van die nooddienste in die Tshwane metro, Charles Mabaso, sê vier mense het ligte beserings opgedoen in die brand wat vanoggend by die Regspraktykraad se kantore – langs die hooggeregshof in die Pretoriase middestad – uitgebreek het.
Hy sê twee beseerdes – waarvan een ‘n diabeet is – moes behandel word vir rookinaseming.
Die ander twee het kneusplekke opgedoen nadat hulle glo in ‘n vuisgeveg betrokke was.
Volgens Mabaso is die twee wat in die bakleiery was ook ondervra oor die oorsaak van die brand.
Hy het bygevoeg dat daar nog nie met sekerheid gesê kan word dat die brand met opset gestig is nie, maar dat dit beslis ondersoek word.
Drie van die gebou se verdiepings is deur die brand geraak en die brandweer se hulp is ingeroep om die vlamme te blus en mense uit die gebou te ontruim.
Die Tshwane-metro se burgemeester, Randall Williams het op sy Twitter-rekening gesê dat ‘n parade gehou is vanoggend vir 38 nuwe brandbestryders, toe die brand enkele blokke verder uitgebreek het. Hy het brandbestryders geloof vir hulle vinnige optrede.
#TshwaneFirefighters Just as we are hosting a passing out parade for 38 new firefighters. A fire broke out in Pretoria CBD this morning at the Legal Practice Council offices. Our team of firefighters managed to speedily put out the fire. pic.twitter.com/OZACqm0x01
— Tshwane Coalition (@tshwane_mayor) September 5, 2022