19 Julie 2023
Die akteur, Bradley Olivier (36) wat bekend is vir sy rol as Danny Jantjies in Binnelanders, word tans deur masjiene aan die lewe.
Die nuus volg nadat verwarring onstaan het weens berigte op sosiale media wat aangevoer het dat Olivier oorlede is nadat hy ‘n hartaanval gehad het. Nie Binnelanders of die sepie se vervaardiger, Stark Studios wou teen gisteraand kommentaar lewer nie.
Die Olivier-familie se woordvoerder, Solomon Cupido, het in ‘n verklaring gesê dat dit met groot hartseer is dat hulle bevestig dat Bradley wel op lewensondersteunende-masjiene is, nadat hy Maandagaand (17 Julie) in die Life Flora-hospitaal opgeneem is.
Sy familie het hom beskryf as ‘n buitengewone teenwoordigheid in almal wat hom ken se lewens. “Hy het soveel van ons harte aangeraak, en sal ‘n groot leemte laat in sy familie, gemeenskap en die bedryf.”
Cupido sê Bradley het die afgelope twee dae die beste mediese sorg ontvang, maar ondanks hulle onophoudelike pogings het dit duidelik geword dat hulle ‘n punt bereik het waar herstel nie meer moontlik is nie.
“Ons vra asseblief vir respek en privaatheid in die moeilike tyd en om ons as familie ‘n kans te gun om in vrede te rou.”
Cupido sê Bradley Olivier se nalatenskap sal voortleef in sy werk. “Ons vra dat mense hom sal onthou met groot vreugde. Ons bedank al die mediese-personeel wat so mooi na Bradley omgesien het.”
