Nuuskommentaar: 23 November 2021
Deur: Johnell van Vollenhoven
Die grootste segment van die jaarlikse nasionale begroting word tans aan onderwys toegeken. Tog lees ek onlangs dat die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum in ʼn omvattende navorsingstudie bevind het dat daar sedert 2012 reeds 828 minder skole landwyd is, dít terwyl dieselfde studie ook bevind het dat daar ongeveer 100 000 meer leerders is wat elke jaar in ʼn skool geplaas moet word.
Die somme maak doodeenvoudig nie sin nie. Terwyl die bevolking groei – en daarmee saam die vraag na onderwys – is daar tans slegs ongeveer 25 000 skole in ons land. Ek kan nie help om te wonder wat die Departement van Basiese Onderwys met sy begroting doen nie. Dit is baie duidelik dat die departement nie (genoeg) nuwe skole bou nie en dit is nóg duideliker dat hy nie bestaande skole in stand hou nie.
Die leerder is die grootste slagoffer van die regering se onvermoë om te kan bestuur of vooruit te beplan. Dit is hulle wat van hul basiese reg op onderrig ontneem word of aan substandaardonderrig onderwerp word omdat fondse wanbestee en kinders in oorvol klaskamers sonder voldoende hulpbronne gestop word. Dan praat ons nie eers van die departement se miskenning van die waarde van moedertaalonderrig en sy onbereidwilligheid om moedertaalonderig in elke amptelike taal in die land te bevorder nie. Dit is amper asof daar ʼn moedswilligheid van die regering is om sy burgers nie behoorlik te laat leer en op te voed nie, asof hy hulle van sy maandelikse aalmoese afhanklik wil hou …
Die uiteinde hiervan is die gebakte pere waarmee die ganse Suid-Afrika vandag reeds sit. Ons “spog” met die hoogste jeugwerkloosheidsyfer in die wêreld volgens Bloomberg, maar dit is nie net as gevolg van die swak ekonomiese klimaat wat tans heers of die talle regulasies soos die minimum loon en swart ekonomiese bemagtiging wat maak dat die jeug nie in diens geneem word nie. Die jeug is ook nie indiensneembaar nie. Kritiese vaardighede ontbreek. Of dit volkome aan die onderwysstelsel toegeskryf moet word, is sekerlik nie die geval nie, maar ek meen tog dat die stryd half gewonne is in ʼn omgewing waar ruimte vir optimale leer geskep word. Dissipline, moedertaalonderrig, ʼn klein leerder/onderwyser-verhouding en genoegsame hulpbronne dra natuurlik tot so ʼn leeromgewing by.
Ek wil my ook nie steur aan die “makliker gesê as gedaan”-segswyse nie. Afgesien daarvan dat die departement sy finansiële hulpbronne reg kan aanwend om die probleem aan te pak, bestaan daar oral in die land bewyse van skole wat nie vervalle raak nie en leerders wat presteer omdat gemeenskappe verantwoordelikheid vir hul skole aanvaar het. By daardie skole word hulpbronne vir die vooruitgang van die skool en die skep van geleenthede vir leerders aangewend. Daar word gebou en gewerk.
Ek wil dit egter duidelik stel: Dit is nie gemeenskappe se verantwoordelikheid om skole te bou nie. Tog laat die vervalle staat gemeenskappe met geen ander keuse nie. Dit is wel gemeenskappe se plig om verantwoordelikheid vir hulself en die toekoms van hul kinders te aanvaar om op dié manier self so min as moontlik van die staat afhanklik te wees, maar ook om hul kinders so toe te rus dat hulle nie van die regering afhanklik sal wees nie.
Die toekoms van Suid-Afrika, of van een enkele groep, hang van die erns af waarmee ons as ouers en gemeenskappe ʼn toekoms bewerkstellig. Dit hang af van ons toegewydheid en die ywer waarmee ons hierdie enorme taak aanpak. Ons moet die regering vir sy wandade verantwoordbaar hou, maar ons moet uit ons eie self ʼn toekoms vir ons kinders bou.
Stem vir die Aitsa’s