8 September 2021
‘n Amerikaanse hof het bevind dat aandeelhouers in die vliegtuigvervaardiger, Boeing daarop geregtig is om die direksie verantwoordelik te hou vir verliese wat hulle en die maatskappy gelei het, nadat 346 mense dood is in twee afsonderlike vliegongelukke – waarby die Boeing 737-MAX betrokke was.
In ‘n lywige uitspraak – wat deur die hof in die Amerikaanse deelstaat Delaware gelewer is – erken die hof dat die regte slagoffers van die tragedie, die oorledenes en hulle families is.
Die hof het egter toegegee dat die direksie die waarskuwingstekens oor die 737-MAX se veiligheidstelsel – bekend as MCAS – geïgnoreer het en die maatskappy en die aandeelhouers vermoëns- en reputasieskade berokken het.
Die eerste ongeluk het in Oktober 2018 plaasgevind toe die Boeing 737-MAX van die Lion Air-lugredery in die see in Jakarta neergestort het kort nadat dit opgestyg het. Al 189 passasiers en bemanningslede aan boord is oorlede. Ongeveer vyf maande later, in Maart 2019, is al 157 mense aan boord ‘n vlug van die Ethiopiese lugredery dood toe die vliegtuig naby Addis Ababa neergestort het.
Die betrokke model vliegtuig is ná die ongelukke vir nagenoeg twintig maande wêreldwyd verbied om te vlieg terwyl die maatskappy lywige boetes opgelê is.
Stem vir die Aitsa’s