19 Julie 2023
Die presidensie het bevestig dat Rusland se president Wladimir Poetin nié Suid-Afrika toe sal kom vir die Brics-beraad in Augustus nie.
‘n Verklaring is ‘n kort ruk gelede uitgereik oor Suid-Afrika se gereedheid om die 15de Brics-beraad aan te bied. Die Brics-beraad bestaan uit Brasilië, Suid-Afrika, Rusland, Indië en China. Dit is die eerste beraad in persoon sedert die uitbreking van die Covid-19-pandemie.
President Cyril Ramaphosa is die afgelope tyd onder druk om te bevestig of Poetin wel Suid-Afrika gaan besoek.
Weens Suid-Afrika se lidmaatskap by die Internasionale Strafhof moet Poetin in hegtenis geneem word indien hy die land binnekom.
Die leiers van Suid-Afrika, Brasilië, Indië en China sal dit bywoon. Rusland se minister van buitelandse sake, Sergey Lavrov sal namens Poetin Rusland verteenwoordig.
Ramaphosa is vol vertroue dat die beraad ‘n sukses gaan wees.
