7 Maart 2023
Die burgemeester van die Tshwane-metroraad, Murunwa Makwarela, is afgedank.
Die Stadsbestuurder, Johann Mettler het hom vanoggend in kennis gestel dat hy nie langer as burgemeester of raadslid in die metroraad kan dien nie.

Dít omdat hy nie aan die vereistes vir ’n raadslid voldoen nie.
Dit het die afgelope naweek aan die lig gekom dat Makwarela in 2016 gesekwestreer en insolvent verklaar is. Hy het dit nooit aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) vermeld nie.
Ingevolge die Grondwet mag ongerehabiliteerde insolvente nie as openbare verteenwoordigers dien in munisipale rade nie.
Mettler het vir Makwarela tot vanoggend 10:00 gegee om bewys te lewer dat hy wel gerehabiliteer is.
Makwarela kon egter nie die bewys lewer nie. Makwarela is Cope se enigste raadslid in die Tshwane-metro.
Hy is verlede Dinsdag (28 Februarie) as die nuwe burgemeester verkies, na hy sy vorige koalisie verraai het, en ’n nominasie vir die pos deur ’n ATM raadslid aanvaar het.
Hy is met die steun van die ANC, EFF en ander een-setel partye in die raad tot burgemeester verkies.
Hy het ook die steun geniet van sewe raadslede van die veelparty koalisie, wat tydens die geheime stemming besluit het om eerder vir Makwarela te stem as vir die koalisie se kandidaat, Cilliers Brink.
Lees die volledige verklaring hier.