20 Junie 2024
Die VF Plus sê hy het ʼn uitnodiging ontvang én aanvaar om deel te wees van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE).
Die VF Plus-leier, dr Pieter Groenewald sê sy party het na deeglike oorweging besluit om wel by die RNE betrokke te raak om te help om Suid-Afrika te herstel en te bou, en om die geleentheid te benut om sy mandaat uit te voer en bevorder.
Groenewald sê die VF Plus sal dié geleentheid ten volle benut om sy insette te lewer in die vorming van beter beleidsrigtings om Suid-Afrika op ʼn pad van herstel te plaas.
“Ons sal ons betrokkenheid by hierdie samewerkingsuitkoms ten volle benut om ʼn sterk rol te speel tot voordeel van die land en ter bevordering van die VF Plus se beleidsrigtings,” sê Groenewald.
Hy sê die geleentheid wat die RNE bied sal ook gebruik word om verantwoordbaarheid teenoor die mense van Suid-Afrika te verseker deur die rol van die parlement ten volle te herstel.
“President Cyril Ramaphosa het gister met sy inhuldiging die VF Plus se verkiesingslagspreuk geëggo dat Suid-Afrika herstel en opgebou moet word. Die VF Plus stem daarmee saam en sal ʼn sterk rol speel om te help met die bouproses tot voordeel van elke mens in die land waar niemand bevoordeel of uitgesluit word nie.”