1 September 2021
Die departement van binnelandse sake het aangekondig dat hy na ‘n nuwe afspraak-stelsel gaan oorskakel in ‘n poging om buitensporige toue en korrupsie hok te slaan.
In ‘n voorlegging het die departement gesê die ontwikkeling van die afspraak-stelsel sal nog binne die huidige boekjaar afgehandel word en reeds binne dié tydperk in sekere kantore bekend gestel word.
Die stelsel is ineengevleg met die nasionale bevolkingsregister en laat gebruikers toe om hulle identiteitsnommers te gebruik om ‘n afspraak te maak.
Die departement hoop dat dié maatreël sal voorkom dat afsprake deur beamptes verkoop word.
‘n Selfoon-toepassing is ook ontwikkel dat Suid-Afrikaners direk op hulle fone toegang tot afsprake kan hê.
Die DA het die stelsel verwelkom en sê dit sal help om weg te doen met die lang rye by die departement se kantore.
Hou Afrikaans op die lug