31 Januarie 2024
Die provinsiale leier van die Vryheidsfront Plus in die Vrystaat, Jan van Niekerk, sê die verkorte ure wat die departement van binnelandse sake se kantoor op Harrismith werk, ontneem kiesers prakties gesproke van hulle demokratiese reg om te stem en só hulle toekoms te bepaal.
Dit volg nadat die party gister self ondersoek gaan instel het, nadat hy al vir ’n geruime tyd klagtes uit die gemeenskap ontvang het, dat die kantoor sy deure vroeg sluit.
Volgens die party was die perseel teen 2-uur gistermiddag verlate, terwyl ’n veiligheidswag na bewering gesê het dat daar waterprobleme by die kantoor is.
Volgens Van Niekerk was daar wel water in die krane en toilette na aanleiding van ’n eenvoudige ondersoek.
Die VF Plus het ’n klag oor die kwessie by die kantoor van die minister van binnelandse sake ingedien en gaan dit glo ook in die parlementêre portefeulje-komitee opneem.