Nuuskommentaar: 11 Januarie 2022
Deur: Jaco Kleynhans
‘n Nuwe politieke seisoen het verlede week in die VSA aangebreek. Lede van die Amerikaanse kongres het na die hoofstad Washington DC terug gekeer en voorbereidings vir die middeltermynverkiesing wat vanjaar op 8 November sal plaasvind, het begin. Al 435 lede van die Huis van Verteenwoordigers, 34 van die 100 senatore en 39 goewerneurs moet verkies word.
Die fokus verlede week was egter op die een jaar herdenking van die opstand op 6 Januarie 2021 in die Amerikaanse hoofstad toe duisende ondersteuners van President Donald Trump voor die kongresgebou teen die uitslag van die presidentsverkiesing betoog het. Terwyl die meeste van die betogers vreedsaam opgetree het, het ‘n paar honderd die kongresgebou bestorm en binne gedring en vir enkele ure chaos veroorsaak. Hierdie persone is sedertdien heeltemal korrek krimineel vervolg en die gebeure is deur alle politieke leiers veroordeel.
Dit was egter oor die Kerstyd reeds duidelik dat die Biden-administrasie van plan was om die herdenking van die tragiese gebeure verlede Januarie vir hulle eie politieke doelwitte uit te buit. Biden en sy adjunk, Kamala Harris se gewildheid neem steeds af en die Biden-administrasie is so ongewild dat Demokrate vrees dat hulle in November beheer oor die Senaat en Huis van Verteenwoordigers kan verloor.
Biden en Harris, gevolg deur die Demokrate se leierskap in die Kongres het dus die afgelope tyd tot die gevolgtrekking gekom dat die enigste manier om in November ‘n verkiesingsoorwinning vir die Republikeine te verhoed, nie effektiewe regering nie, maar wel die aanblaas van vrees sal wees. Indien genoeg kiesers, volgens Biden en Harris, dink dat die Republikeinse Party gevaarlike ekstremiste is wat die demokrasie in die VSA bedreig, dan sal hulle weer in November ‘n meerderheid Demokrate in die Kongres verkies.
Verlede Donderdagoggend het Harris die eerste skote geskiet toe sy gesê het dat die gebeure verlede Januarie gelyk bestel kan word met Japan se aanval op die VSA by Pearl Harbor op 7 Desember 1941, sowel as die terreuraanval deur Al-Kaïda op 11 September 2001. Terwyl die gebeure van 6 Januarie 2021 onaanvaarbaar en krimineel van aard was, is Harris se vergelyking nie net verkeerd, populisties en deurdrenk van politieke opportunisme nie, maar ook gevaarlik.
Biden, wat ‘n jaar gelede tydens sy inhuldiging as president van die VSA onderneem het om die gevaarlike breuklyne tussen Amerikaners te help herstel, het tydens sy toespraak eerder die 74 miljoen kiesers wat vir Trump gestem het, beledig, terwyl sy hele toespraak, soos tydens sy verkiesingsveldtog in 2020 op sy voorganger gefokus was. Biden was in 2020 die anti-Trump kandidaat en is vandag steeds net die anti-Trump president.
Die werklikheid vir Biden en Harris is dat hulle in die politieke moeilikheid verkeer. Byna 60% van Amerikaners is ontevrede met hulle werksprestasie. Amerikaners se ontevredenheid word gedryf deur inflasie, stygende lewenskostes, probleme in die arbeidsmark, onwettige immigrasie, die pandemie wat steeds voortwoed en ‘n groeiende afkeur in verkose politici.
‘n Interessante paar maande lê voor in die Amerikaanse politiek en die kanse raak groter dat vanjaar se middeltermynverkiesing ‘n groot oorwinning vir die Republikeine kan inhou en dat dit die begin van die einde van die Biden/Harris-era kan beteken.