21 September 2023
Die minister van elektrisiteit, dr. Kgosientsho Ramokgopa sê die kragkrisis sal voor volgende jaar se algemene verkiesing opgelos wees.
Die datum van die verkiesing is nog onbekend, maar dit sal waarskynlik in Mei 2024 plaasvind.
Dié versekering van Ramokgopa volg, ten spyte daarvan dat Eskom ‘n rekordgetal ure se beurtkrag in 2023 geïmplementeer het, wat 2022 se getal ver verbygesteek het.
Ramokgopa sê die beskikbaarheid van energie is aan die toeneem, wanneer ‘n mens dit met ander jare vergelyk. Hy skryf dit toe aan die voordele van die opwekkingseenhede by onder meer die Kusile- en Koeberg-kragstasies.
Ramokgopa het die onlangse fase 6-beurtkrag verdedig en bewerings ontken dat dit deur ‘n tekort aan geld by Eskom veroorsaak is.
Hy sê uitdagings met die voorsiening- en waarde-kettings rakende diesel het dié probleem veroorsaak.
Beplande instandhouding is glo ‘n ander bydraende faktor, maar volgens Ramokgopa kan die beurtkragprobleem binne die volgende drie maande opgelos wees.