20 September 2024
Die minister van elektrisiteit en energie, dr. Kgosientsho Ramokgopa, sê die land sal in duisternis gedompel word as Eskom nié finansiële steun ontvang nie.
Hy het gereageer op ‘n Parlementêre debat oor Eskom se voorgestelde tariefverhoging, waar politieke partye hul teenstand uitgespreek het teen ‘n tariefverhoging – wat deur die Nasionale Energiereguleerder van SA (NERSA) toegestaan is.
Die Nasionale Vergadering het gister die besluit deur NERSA gedebatteer, om Eskom se aansoek toe te staan om R8-miljard – terugwerkend vir die 2021/2022-geldjaar – te verhaal. Ramokgopa het egter gewaarsku dat beurtkrag kan terugkeer as Eskom nie behoorlike finansiering kry nie.
LEES OOK: Nersa ontvang Eskom se tariefaansoek, 44% verhoging dálk ‘n moontlikheid
Intussen sê Eskom ondanks die koue weer, wat vir die naweek voorspel word, het hy voldoende voorsiening gemaak om in die verwagte verhoging in die vraag na elektrisiteit te voorsien.
Ten spyte van die gure weer het ‘n Eskom-woordvoerder, Daphne Mokoena, gesê die kragvoorsiener se operasionale opwekkings-herstelplan sal verseker dat daar genoeg krag beskikbaar is.
Sy sê daar is ook voldoende noodreserwes opgegaar om enige skielike veranderinge in vraag – byvoorbeeld gedurende spitstye – die hoof te bied.