1 Julie 2022
Die 31-jarige vrou van Bethlehem in die Vrystaat, wat daarvan beskuldig word dat sy lede van haar gesin vergiftig het, het vanoggend vlugtig in die landdroshof verskyn.
Frans Pamplen (49), Mamsi Pamplen (14) en Meiki Mokwena (10) is dood nadat hulle verlede week boontjiesop geëet het wat gif ingehad het. ‘n Derde dogter, Lerato Mokwena (11) het ook van die sop geëet, maar het oorleef.
LEES OOK: OPVOLG: MA VAN KINDERS OOK VASGETREK NA HULLE DOOD IS “WEENS BOONTJIESOP”
Maphephi Mokwena het na bewering die sop gekook en dit vir haar gesin gegee om te eet. Volgens haar regsverteenwoordiger staar die vrou drie aanklagte van moord en een van poging tot moord in die gesig.
Die saak is tot 14 Julie uitgestel wanneer Mokwena formeel sal aansoek doen om borgtog. Volgens die regsverteenwoordiger word die vrou se 21-jarige suster van meineed aangekla.
Daar is aanvanklik berig dat die kinders se tannie vir die moorde verantwoordelik was. Haar saak is geskei van haar suster s’n. Haar saak hervat in Julie.