9 Maart 2022
Die Tshwane-metro sê hy is verlig dat bestuurslisensie-toetssentrums vanoggend heropen het sonder enige probleme.
Dit kom nadat bestuurskole, verbonde aan die Nasionale Bestuurskool Vereniging van Suid-Afrika betoog het en sodoende toetssentrums in Gauteng tot ‘n totale stilstand gedwing het. Die vereniging het onder meer geëis dat die Natis aanlyn-besprekingstelsel geskrap moet word en dat die ou instapdienste teruggebring word.
Die burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer in die Tshwane-metro, Dikeledi Selowa sê die lisensiekantore beleef tans ‘n agterstand in sy dienste weens die betoging.
“Die Gautengse departement van vervoer het ‘n interdik teen die vereniging bekom om verdere betogings stop te sit, maar die Tshwane-metro sal steeds voortgaan met sy eie hofaansoek om te verhoed dat personeel gedreig word, sentrums toe moet maak of enige infrastruktuur beskadig word,” sê Selowa.