25 Junie 2024
Die raad van die Universiteit Stellenbosch het besluit dat die universiteit se rektor en visekanselier, prof. Wim de Villiers se besluit oor die Wilgenhof-manskoshuis heroorweeg moet word.
Dit volg nadat De Villiers gister ‘n aanbeveling aan die raad voorgelê het dat die koshuis moet sluit aan die hand van ‘n ondersoek wat by die koshuis afgehandel is. Die Rektor se addisionele aanbeveling was dat die gebou as ’n opgegradeerde koshuis behou moet word.
Die ondersoek is begin nadat items en foto’s van oënskynlik ritualistiese praktyke in twee geslote vertrekke van die koshuis gevind is.
Die US het in ‘n verklaring gesê dat die raad bewus is van die feit dat menings oor die toekoms van Wilgenhof verdeeld is.
“Hierdie kwessies moet deeglik oorweeg word in die belang van regverdigheid, deursigtigheid en administratiewe geregtigheid, belyn met die US se visie en waardes,” lui die verklaring.
Die US sê teen hierdie agtergrond het die raad besluit die rektor se aanbeveling noodsaak verdere oorweging en konsultasie. Alle belanghebbenes het nou die kans om tussen môre en 31 Julie skriftelike voorleggings in te dien oor die koshuis se toekoms.
Sodra die US Raad die geleentheid gehad het om die skriftelike voorleggings te oorweeg, sal die Raad aanbevelings maak oor die pad vorentoe.
Die paneel se geredigeerde verslag is hier beskikbaar.