Nuuskommentaar: 7 Maart 2023
Deur: Julius Kleynhans
Eiendomsbelasting en die waardasierol: voorkom só ‘n nare verrassing op jou munisipale rekening. Besit jy ‘n eiendom in Johannesburg of Kaapstad? –
Elke paar jaar, gewoonlik in Julie, kry eienaars van eiendomme dikwels ‘n nare verrassing op hul munisipale rekeninge: verhoogde eiendomsbelasting. In 2021 is duisende inwoners van Ekurhuleni onkant gevang met eiendomsbelasting wat in sommige gevalle met tot 2000% verhoog is. Ja, reg gelees: 2 000%!
Munisipaliteite herwaardeer eiendomme se waardes omtrent elke vier of vyf jaar. Hierdie waardes verskyn dan op die munisipaliteit se Algemene Waardasierol, soos dit amptelik bekend staan. Die waardasie is gegrond op die munisipaliteit se eie aannames en prosesse, en die waarde wat hulle aan jou eiendom toeken, bepaal dan jou nuwe maandelikse eiendomsbelasting.
Dit is dus ontsettend belangrik vir eienaars van residensiële- sowel as kommersiële eiendomme om op die uitkyk te wees vir ‘n formele kennisgewing (Artikel 49-kennisgewing) van ‘n munisipaliteit se Algemene Waardasierol.
Vanjaar vind die herwaardering van eiendomme en opdatering van die Algemene Waardasierol onder andere in Johannesburg en Kaapstad plaas. Die nuwe tariewe tree op 1 Julie 2023, die begin van die munisipale boekjaar, in werking. Hierdie eiendomswaardasies word bepaal deur die bedrag waarvoor die eiendom op 1 Julie 2022 in die ope mark deur ‘n gewillige verkoper aan ‘n gewillige koper verkoop kon word.
Net in Kaapstad en Johannesburg alleen beïnvloed hierdie proses altesaam 1, 841 miljoen Eiendomme.
Dit is dus baie belangrik om vas te stel tot hoe ‘n mate jy deur hierdie waardasies geraak word. Waardeerders maak soms foute, en jy moet verseker dat jou eiendom billik gewaardeer word, want dit sal bepaal watter munisipale tariewe jy voortaan gaan betaal.
As jy vind dat jou eiendom se opgedateerde waarde irrasioneel is en glo jy kan dit bewys, moet jy die waardasie en voorgestelde tarief betwis. Dit is baie belangrik om dit te doen binne die kort tydraamwerk wat die munisipaliteit hiervoor gee, want as jy dit nie doen nie, sal dit heel waarskynlik te laat wees wanneer jy die nuwe tariewe teen Julie 2023 op jou munisipale rekening sien.
Die sperdatums is 15 Maart vir Johannesburg en 30 April vir inwoners van Kaapstad.
Die munisipaliteit gebruik twee maniere om tariewe te verhoog. Die eerste is die waardasierol, wat beteken dat die eiendoms-eienaars se tariewe styg in lyn met die opgedateerde waardasie van hul eiendomme. Dit is spesifiek vir elke eiendom. Die tweede manier is deur die algemene jaarlikse verhoging oor die hele spektrum van tariewe wat elke jaar by die munisipale begroting ingesluit word. Dit is die koers-in-die-rand-verhoging.
Hier volg ‘n 5 stap plan wat jou kan help om seker te maak dat jy jou insette kan lewer rondom die voorgestelde nuwe waardasie van jou eiendom:
- Vind jou eiendom op die waardasierol en gaan die nuwe waardasie na deur een van die volgende opsies te kies: Johannesburg / Kaapstad.
- Vergelyk die nuwe waarde met die huidige waarde op jou jongste munisipale rekening.
- As jy dink die nuwe waarde is billik, hoef jy niks te doen nie.
- As die nuwe waarde aansienlik toegeneem het, kan jy daarteen beswaar aantekening deur die volgende stappe te neem:
- Bepaal die bedrag waarvoor die eiendom op 1 Julie 2022 in die ope mark deur ‘n gewillige verkoper aan ‘n gewillige koper verkoop kon word. Organisasies soos Lightstone kan jou help met ‘n waardasie-verslag van jou eiendom wat jou min of meer die waarde daarvan sal kan gee. Jy kan ook natuurlik ‘n professionele eiendomswaardeerder se dienste bekom.
- Vergelyk die bepaalde waardasie met die munisipale waardasie en bereken die verskil.
- Kliek dan op die stad van jou keuse om ‘n formele beswaar aan te teken: Johannesburg / Kaapstad.
‘n Munisipaliteit het die reg om eiendomsbelasting te hef, en dit is dus belangrik dat eienaars van eiendomme die korrekte inligting aan ‘n munisipaliteit verskaf indien hul beswaar aanteken.
In 2021 het sowat 42 000 eiendom-eienaars beswaar aangeteken teen die waardasierol van die Ekurhuleni metro, en hulself in die proses duisende rande bespaar. Maak dus seker jy registreer jou beswaar betyds.