9 September 2022
Die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa sê die omstrede vlagprojek – waartydens ‘n reusevlagpaal wat 120 meter die lug in sou reik opgerig sou word – is gestryk.
Mthethwa het aan die portefeuljekomitee in die parlement gesê dat dié projek – wat die belastingbetaler R22-miljoen uit die sak sou jaag – nie mer sal voortgaan nie.
Die kabinet het die projek in Februarie goedgekeur, maar president Cyril Ramaphosa het later gesê dat die projek geskrap moet word nadat dit hewige reaksie uit uiteenlopende groepe ontlok het.
Volgens die regering sou dié projek lei tot nasiebou en sou dit dien as ‘n monument vir demokrasie en ‘n simbool van vryheid.
Die adjunk-direkteur-generaal vir erfenisbevordering, Vusithemba Ndima, sê die administratiewe prosedures word nou gevolg om die skrapping van die projek te wettig.